Donate
Sunday
Mar182012

Wat WAG vermag...

Omdat ek op een van daai moedelose wagplekke is, waar g’n niks sin maak nie en hoop oor die bult buite sig is… was dit so lekker vir my toe ons oor die lekkerste broodjie moontlik ‘n geselsie deurwerk wat my toe nogal meer optel as wat ek op daardie stadium verwag het.

Elza vra so tussendeur of ons weet hoe die val van die Berlynse muur gebeur het? Nie een van ons het nie, toe vertel sy ons eers oor die oprig daarvan. Hoe die kindertjies daarop geklouter en gespeel het soos hulle dit gebou het, want niemand het die doel daarvan besef nie. Die dag wat die doodsmuur in werking getree het, het mans werk toe gegaan soos gewoonlik, maar toe hulle huis toe wou gaan na hulle families toe, kon hulle nie. So is families geskei vir amper 40 jaar lank deur daardie vervloekte muur. Geen opstand is geduld nie. Geen samekomste nie. Enige teken van so iets en wie ookal deel was, is afgemaai en dit was dit. Vrees het meedoënloos regeer tydens kommunisme. Maar by die een hek was die Christene aan die bid. Die hek is gereeld saggies gesalf en bevas en bebid. Jaar in en jaar uit was daardie gebede voor God se troon in die bak opgevang tot hy oorgeloop het, die volheid van tyd aangebreek het en God die woord gespreek het. VRYHEID! Die betrokke dag het die mense skielik die strate in begin stap. Hulle het by die muur saamgedrom. Waar hulle in die verlede oombliklik hulle lewens sou verloor, is nie een skoot op hulle gevuur nie. Hulle het meer en meer geword en begin aandring dat die hek oopgemaak word. Dis nou die bebidde hek. Hulle het al hoe harder aangedring tot die paniekbevange wagte die generaal self bel met die bekommerde woorde; die mense wil hé ons moet die hek oopmaak. Dis toe dat die generaal antwoord: “wel maak dan die hek oop.” Met die oopmaak van daardie hek en die oorstap van daardie mense, het kommunisme geval. ‘n Mens moet wonder wat van daardie generaal geword het. Wat op aarde daardie dag in sy kop moes aangegaan het, met die tipe vrees regéme wat hy al die jare self geadministreer het, wat tog ook moes geskree het daar binne…. Maar God het gepraat en wanneer Hy dit doen is daar niks en niemand wat Hom kan keer nie.

Dan wonder jy skielik… wel hoekom nie vroeër nie? Hoekom soveel gebede oor soveel jare???

Volgende vertel sy toe van ‘n fotograaf wat al baie toekennings ontvang het vir die nuus fotografie wat hy doen. Hy is ‘n ernstige volger van Jesus en God sê toe eendag vir hom om Rwanda toe te gaan en die oorlog daar af te neem; die dood, die vroue wat verkrag is, die kinders wat sonder ledemate rondloop, al die verskrikkings wat daar gebeur. Hy doen dit toe en verloor twee keer byna sy lewe in die proses. Met sy terugkeer wou hy dit sumier koerante toe stuur, maar God keer hom en sê uitdruklik dat hy dit na die gebedsnetwerke in die land toe moes stuur. Hy het dit gedoen en jare het verby gegaan. Die oorlog het aangegaan met alles wat daarmee gepaardgaan…. en hy het letterlik daarvan vergeet. Tot een dag wat hy in ‘n gepakte kroeg sit en opkyk na die televisie, waar die nuus toe juis op daardie tydstip berig doen oor die einste oorlog in Rwanda. Skielik neem ‘n heilige woede van hom besit en hy staan net daar op en skree TV toe, Oorlog in Rwanda, stop NOU! Daardie selfde aand is die verdrag geteken wat die einde van die oorlog beteken het.

So hier’s my vraag…. Wat beteken volheid van tyd? Wat moet alles gebeur, wat so belangrik is, dat geen lewensverlies, hartseer of pyn die tyd vorentoe kan dwing nie? Wat sien ons liefdevolle God wat ons nie sien nie? Want Hy sien en Hy weet.

Wat my bring by my huidige situasie wat ek nie verstaan nie en ek vas glo ek nie kan verdra nie…. Nie gaan maak nie… hopeloos is. Maar God stem nie saam nie. Hy haal my nie hieruit nie. Hy vra net dat ek doen wat Hy voor my sit. En solank daar asem in my is, is dit wat ek sal moet doen. Ek kan nie vorentoe nie en ook nie agtertoe nie, want ek weet nie wanneer Hy wat in my en die rondom my moet vermag vir Sy koninkryk en tot Sy eer nie… Al wat ek weet is wie Hy is… dis al. En al is dit nie nou genoeg nie, is dit al wat ek nou het en Hy bly soeverein.

Ek sien met alles in my uit na eendag daar voor Sy troon as ek kan saamweet, en nie meer KAN wonder of twyfel nie…

Sunday
Mar112012

Geesdraffies

Ek het by die see begin draf. Wel my man het en ek was geforseer om dit toe ook te doen. Dit was toe nie net lekker nie, dit HELP!

Jy sien by die see is dit maklik. Jy het die klank van golwe in jou ore en baie tyd om te dink so tussen die asemsnakke deur. Dit was Desember en nou is dit Maart, en ek kan nog baie duidelik onthou hoe dit my getref het dat die golwe net kom tot waar God dit bepaal het. Ek bedoel GROOT golwe wat net hulle fut verloor en klaarkry met hulle stoot, want God het so gesê (wat ookal die wetenskap daaragter is LOL).

Of as jy gaan draf op pad terug van die Kaap af in Beaufort Wes, en tussen daardie groot berge besef jy dat, hoe nietig hulle jou ookal laat voel, hulle sooooo klein is in God se oë. Dat die aarde plein pikant is en dan “Wat is die mens” né?

Toe kom ons by die huis en omdat dit net so lekker was, word dit toe ons familie ding. Wel die kinders het net ‘n rukkie gehou, toe begin hulle maar saam fietsry… maar dis ten minste saam.

Dan kry ek my alleen oomblikkies, soos die keer toe ek daai laaste vieslike bult net voor ons klaarmaak aandurf. Ek het dit al ‘n paar keer vantevore gedoen. Dan stoomroller ek hom. Ek werk sy gal. Laat sak my kop en bul hom uit, al rooi-in-die-gesig swetend, tot jy bo kom en weet jy het daai tjokkie verdien ou maat! Maar toe seker so twee weke terug, een Sondag, sien ek die stopstraat bo-op die bult. Leilah het saam met my gedraf daardie keer, en ek moes iets vir haar kry om op te fokus. Daai stopstraat word toe ons baken en die blou lug agter hom, en ons hardloop net na hom toe. Vir die eerste keer kyk ek toe op. En wat ‘n gewaarwording! Dit was asof daai bult weggemelt het voor my voete. Hy het eenvoudig net nie die aandag gekry wat hy vantevore gekry het nie. En iets wat voorheen pure sloeg was, word toe SOVEEL beter, omdat ek op ‘n simpel stopteken fokus!

Wel ‘n week later was dit weer ek en daardie bult, en omdat die vorige keer net so ‘n openbaring vir my was, let ek toe beter op na die effek. Ek sement weer my blik op daar rooi blokkie sirkel, en doen dit weer. Jy sien, jy sien daai teken al van die vorige bult af. So toe ek so afsak in die afdraend voor die bult, berei ek myself toe ewe voor vir die hele proses en begin bestyg. Toe wraggies, daar gebeur dit weer. Maar in die mooi oplet besef ek toe ek kon nie altyd daai teken sien nie. Daar is ‘n hele ruk in die middel wat die laagte van die dip en die stylte van daardie bult die stopteken insluk agter die rant, en wat ek hardloop op “weet van hom”. Ek kom toe agter dat ek regopper hardloop in die uitsien na die bo-punt van die stopteken… en dat dit help. Baie help. Toe verskyn hy weer. Lekker naby en binne bereik en alles maak net sooo baie sin. Fisiese goed doen mos soms.

God wys mos daai einddoel vir jou so ver vooruit… soms. Dan begin jy vol moed en entoesiasme soontoe hol en jy glo net niks sal te veel wees nie. Tot jy die laagte tref en die stopteken agter die bult verdwyn né? Die werk het nie opgehou nie, dit lyk net flippen onmoontlik, of dalk het jy eenvoudig nooit die stopteken gesien nie, of dalk was dit toe al die tyd net “wishful thinking”? Maar jy loop nogsteeds. Hardloop weer as die asem dit toelaat. In die gees staan jy in geloof en glo en proklameer profeties, alles sonder om enige effek te sien, en voel dalk selfs effe simpel terwyl jy dit doen né? Maar dis die regop hardloop deel. Die ruggraat deel. Die tough deel wat net jy en God in jou ken.

En as jy weer sien is hy daar. Jou doel. Jou belofte. Jou tyd. Hy’s rooi en helder en onmisbaar. Jy is ook nie die enigste een wat hom sien nie, mense om jou sien jou gesig ook. Sien jou geloof beloning. Wens dit was hulle, dalk is hulle selfs jaloers... En so kry God Sy eer en mense draai na Hom toe wat andersins net nooit sou nie.

Daar was nog goed. Bakens. Jy sien nie die laaste een nie (bome in die pad), jy sien net die een wat jy eerste moet maak, wat jou lei na die tweede en derde een toe… die finale een vermoed ek is net daar op die troon. Of andersins eer jou hart net die behaal van die verste baken, en jy ignoreer die bakans op die pad, en dus ook die aanmoediging wat jy uit die bereik van elkeen kon geput het.

Of asemhaling, ritme… en God het Syne ook ne? My kindertjies sukkel baie daarmee, want dit vat bietjie geduld om nie met elke tree te hyg nie.

Wat van ‘n goeie postuur (dit help so baie)… die wapenrusting? Die woord? Alleentyd met God?

Ag ek weet nie! Toe Paulus daai ding kwytgeraak het van dat hy die wedloop voltooi het, dink ek hy moes die sin dalk deurdink het. Dalk het hy gladnie eers besef wat hy gesê het nie? Ek weet net dat hardloop ‘n fisiese uitbeelding is van baie geestelike hartsdinge. Ek’s eindeloos bly dat ek nou ook mag inkyk en ek sien uit na nog baie kykies op die pad.

Ps. Het jy geweet die Gospel Direct winkel ketting is so op pad op ‘n draffie “gekry”? LOL

Tuesday
Feb212012

Operasie TYD

Daai stuk tyd tussen my desperate God-smeek-om-hulp en Sy sigbare antwoord op my gebed… dis waaroor Elza toe nou praat vanoggend by Collage gemeente. Ek is nogal heel onlangs deur so ‘n beseffie en dit was so lekker om haar toe nou daaroor te hoor gesels, jy weet, ter bevestiging.

Ek besef net so goed hoe verskriklik belangrik daardie stukkie tyd is. Tyd. God se wapen/ Sy operasiemes/ Sy pleister… een van Sy effektiefste antwoorde op ons verraderlike harte.

Want wanneer word ons desperaat anders as wanneer ons antwoorde op is? Ons vra sonder erg bedoel voor dan vir bietjie hulp, maar dis as AL ons voorsiening sy dif sien, wanneer alle natuurlike hulpbronne en metodes tekort skiet, dan… DAN. Dan word ‘n onsigbare God ‘n opsie. Dan word die moeilike harde manier die enigste manier. Dan word “doodgaan aan jouself” iets wat dalk regtig kan gebeur, want vir die eerste keer is jou fokus op Hom en nie meer op jouself nie.

Want kom ons erken mooi eerlik aan mekaar, ons is SELFSUGTIG, selfbehep selfs. Ons is eiewys… ons WIL beheer hé, en ons sal NIE verander as ons nie hoef nie. Selfs al wou ons eintlik, is dit onmoontlik om verby onsself te kom op eie stoom.

So dan gebeur tyd. En die lewe. En God se wil in ‘n gebroke wêreld.

Jy bid nog die een dag dat God se wil sal geskied en dat sy koninkryk sal kom… dan slat al die papaaias elke waaier herhaaldelik dwars!

Weer… en weer… en weer.

Keer nommer een dink jy; “Vet, die duiwel is listig!”… keer nommer 2 dink jy ek sal nog sterk staan, ek sal, ek sal…. maar keer nommer 3, die hardste een, lê jy lam verslae heel onder en vra jy skielik; “maar Here. U woord sê dan so en so… lieg U dan? Is U dalk nie geloofwaardig nie? Wie is U? Wil ek nog ‘n Christen wees?”

En daar’s hy! Die deurbraak! Al is die einde nog niet…

Welkom by die geestelike operasie tafel.

Jy sien, nou vir die eerste keer, is jy en jou in beheergeit nie meer in die pad nie. Skielik het jy eenvoudig geen antwoorde meer nie en geen van jou geestelike formules “werk” nie. Jy is selfs tot op die plek waar jy (al is dit net aan jouself) sal erken dat jy nie eers meer weet wie God is nie… en die basis van alles waarop jy gebou het stort in duie.

Die prentjie wat ek sien, is jy wat ingeboek het in die hospitaal en jy’t ‘n spinaal gehad. Jy’s by, maar jy is op die operasie tafel en daar word nou aan jou hart gewerk.

Want dis wat ‘n totale hartsverandering vat. Dit vat die tipe oorgawe en vertroue in God wat ver verby die eerste vlaag christelik aanvaarbare woorde strek. Dit vat amper hopeloosheid. Dit vat die saad wat in die grond geplant word en “doodgaan” om weer “lewend” daar op te staan met die tipe hoop wat geen menslike oortuiging ooit kon vermag nie. Vrede wat alle verstand te bowe gaan. Vreugde wat dieper is as enige fisiese omstandighede.

Dis daar op die operasie tafel wat christelike diep, kort woordjies vir die eerste keer LEWE kry. Die geen keuse tipe betekenis van woordjies soos “genade”… “liefde”…”nuut”.

Dis dan wanneer jou bybel kosbare traanmerke kry en die Woord soos ‘n druppel water vir jou, die drenkeling, word. Jy begin “soos ‘n hert smag na waterstrome” anders sing. Met jou voorafopgestelde kultuur-en-ervaring gebasseerde opinies uit die pad uit, kan God Homself werlik aan jou begin openbaar. Nuwe fondamente word gelê met geesstene en lewende ewige sement, wat nuwe vlakke van antwoordloosheid kan deurstaan.

Wanneer die operasie oor is (perfek getyd), kom die deurbraak. Die antwoord. En vir die eerste keer is jy vir daardie oomblik op ‘n plek waar jy bereid is om Sy antwoord te vat, maak nie saak wat dit is nie, selfs al is dit nee… want jou hart het geskuif. Vir goed.

Let wel… tannie Joyce sê mos ander dag iets. Dat God vir ons alles gee wat ons nodig het, maar altyd in saadjie vorm. Dis onder andere operasietafel tye wat daardie saad laat groei.

En nie een keer nie.

Herhaaldes.

Want kom ons wees weer blatant eerlik met onsself.

Die OOMBLIK wat ons daar opstaan, en die geldjies kom in, of ons word gesond, of ons kry die gebou of wat ookal… slaak ons ‘n sug van verligting en vat weer beheer.

Dalk effe minder as voorheen. Maar as jy weer sien is jy sommer effe trots ook op die minder beheer en moet jy van voor af die reis begin loop na jou volgende hospitaal ervaring om die volgende agtergeblewe mosterd saadjie nat te lei.

Nee kyk, God het NIE belowe dat dit maklik is om ‘n christen te wees nie.

Hy het wel belowe dat Sy juk lig is om te dra.

En ek vermoed, as mens genoeg keer lé… dan leer jy uiteindelik om in daardie juk te rus; en net hoe anders Sy juk dalk lyk as wat jy hom aanvanklik ingedink het.

So ja. Kom ons geniet daai versie waar Jesus vir Johannes die Doper gesê het, geseënd is hulle wat nie “offence” vat in My nie.

Want selfs op die tafel, het jy die keuse om kwaad te word, en weg te draai terug eie wil toe.

Friday
Feb172012

Duik! Eer byt!

Wanda Bam het my eenkeer vertel dat sy in Israel ervaar het dat dit Jesus se bruid is wat Hom aan Sy eerste liefde (die Jode) moet ten toon stel. Hulle sal hom sien as Sy Christene deur Sy Gees vir hulle wys.

Is dit enigsins anders hier in ons eie land?

Wat gaan dit vat vir ons stukkende SA om die Hoop van die eeue raak te sien?

Ek het op ‘n stadium gewonder hoekom dit so belangrik is dat ons God eer. Hoekom moet alles so oor Hom gaan? Alles wat Hy doen eer Homself, hoekom hoekom hoekom? En ‘n ding begin hier in my broei wat nou al so gevorder het, dat ek nou voel dat ek ‘n duidelike mandaat het om God se koninkryk te bou, nie ‘n mens s’n nie. God se eer is net te HEILIG!

Kom ek tree net ‘n paar treetjies terug om te verduidelik.

Ek het begin jaloers raak op God se eer, omdat ek besef het dat daar twee gebeur wanneer God regtig egtig die eer kry.

Ons raak eerstens geweldig beïndruk met God, en tweedens raak mense om ons geweldig beïndruk met God. Dis wat ware eer regkry en dis vir ewig belangrik.

Eers gebeur iets in my as ek God leer ken. As ek hom SOEK soos die bybel sê, dan ontdek ek bietjie vir bietjie meer en meer wie Hy is. Wat Hom beïndruk. Wat Hom so anders maak. In hoeveel detail Hy geskep het, presies hoe betrokke Hy in ons lewens is. Hoe min ek van Hom af weet en hoe intens enigiets te doene met Hom is; Sy liefde, Sy woord, Sy beloftes, Sy vrede, Sy vreugde. Daar is net een groooot woord wat Hom effe beskryf en dit is “ondeurgrondelik!” Daar is g’n manier wat mens ooit kan ophou grou nie. Hy is oneindig fabelagtig wonderlik.

En as jy weer iets nuuts click, dan word God weer in jou hart ge-eer. Dis ‘n kosbare ding, want dis as jy deur God geWOW word, soos in weggeblaas word, dat jy Hom en Sy bedoeling per sekonde in jou lewe begin ernstig opneem. Dis dan wanneer jy opofferings sterk begin oorweeg. Verandering op hartsvlak deurstaan (want dis gewoonlik seer), begin oorgee aan jou onsigbare Here… want jy weet dat jy weet dat jy weet dis dit of niks nie. Dis die eerste keer wat jy begin besef hoe strategies kardinaal daardie eer is. Wanneer jy iemand om jou sien swaarkry en jy weet finaal dis net ‘n besef van Wie God vir haar kan wees, wat haar kan red….NIKS NIKS NIKS anders nie! Dit is wanneer jy besef jy kan niks doen nie en jou mond begin God eer. Jy sal nooit as te nimmer iemand kan van iets kan oortuig waarvan jy nie oortuig is nie. Nie iets geesteliks nie. Nie as die probleem ernstig is nie. As jy dan nie glo God kan iets doen nie, klink jou woorde hol en harteloos. Maar as jy WEET, is daar outoriteit wat kom saam met jou eerstehandse lewe-geleerde hartskennis.

En dan vorder jou brein een stappie verder. Want jy besef satan probeer mense van God af weghou. Jy weet hy bied fake alternatiewe. Selfs christelike fake alternatiewe!!! As hy dit kan regkry om net een indrukwekkende stappie of mens tussen jou en Jesus Christus in te wig, kan die effek vir ewig effektief wees…

Die Gospel sanger.

Die dominee

Die internasionale spreker

Die sportheld

Die leier

Die christelike vriend of vriendin

Die mentor…

As satan die fokus net van God af en op die mens kan kry, dan gebeur tweedehandse eer… en God bly veilig op ‘n afstand!

Wat ons bring by eer nommer 2. Om mense te eer. Ek werk elke dag met bekendes. Onderhoude, artikels, optredes ens ens. met geestelike “celebs”.

Ek sien hoe mense met hulle en van hulle praat. Mense kry skoon ‘n ander stemtoon voor hulle. Heldeverering in die oë. Iemand het onlangs vir my verduidelik dit is respek. Ek dink nie so nie. Hulle word anders behandel. Media vra hulle opinie omdat die publiek dit wil weet. Hulle moet die besluite maak en hulle woord is effe wet.

Ek besef net hoe skadelik dit is vir enigiets of iemand anders as God. Dis is erger as geld. Dis fataal vir die menslike psige! Hoe op aarde moet iemand wat alewig sy eie blink biografie moet lees, wat konstant so behandel word; hoe hoe hoe moet hulle in hulle harte nederig bly? Eenvoudig bly? Dit nie glo nie?

Daai lekker warm gevoel as mense hande klap. Hulle kan dit nie help nie. Dis soos kos wanneer hulle na die VIP kamer terugkeer.

As hulle liggies om hulle spieëls het.

As hulle kyk na hulle mooigemaakte fotos wat hulle mooier as hulleself laat lyk.

En hoor my hart. Hierdie is nie kritiek op bekendes nie.

Ek het ook ‘n kunstenaarshart met sy sterk en swakpunte. Ek besef net hoe verradelik mens se hart is. Eer is LEKKER. Dis wonderlik as iemand vir jou kom vertel hoe wat jy gesë het hulle perfek bedien het. Hoe jy hulle “bless”…

JY

JY EK

EK EK

En in jou hart neem jou eer die plek van God s’n in. Nie so dat jy dit dadelik eers agterkom nie.

Maar as iemand jou ‘n toekenning wil gee, dan lekker.

As iemand jou voorkeur behandeling wil gee, lekkkerrrrrrr… jy verdien dit bietjie!

Hiers my groot vraag.

As die mense wat ons so vereer uiteindelik by die verhoog afstap. Wat onthou die mense?

Wat sê hulle?

Ek kan jou sê wat hulle sê.

Hulle sê hy het soooo mooi gesing.

So mooi aanbidding gelei

So mooi gepreek

Jissie, dit was nou spot on

Maar dis bitter min dat die mense uitloop en God verheerlik.

Maak nie saak hoeveel die mens oor God gepraat het en oor Hom gesing het nie.

Maak daardie “gehoor” die konneksie of nie????

Gaan die eer DEUR of nie?

Wie ONTHOU hulle. God of daai mens?

Weet jy watter vers het die hele gedagte in my laat ontplof? Dis die een in Mattheus 5:16

“Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ‘n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys.” Daai laaste stukkie is die vet vraag: “wie prys hulle na jy jou goeie werk gedoen het?” Jesus het dit reggekry terloops, ek het dit al ‘n paar keer raakgelees, en waardeer vir die prestasie!

God is die alfa en die omega. In vergelyking met Hom is niks enigiets nie.

Hy is perfek heilig. Perfek soeverein. Perfekte onselfsugtige liefde, die definisie van vrede en vreugde. Hoe dra jy by tot volkome perfeksie?

Een aspek van sy perfektheid is geen tekort aan selfaanvaarding nie…. Ha ha Hy kan eer hanteer.

Wat duidelik meer is as wat satan kon sê… of wat ons kan sê.

Eer is soos geld. Mens kan nooit genoeg kry nie. Sodra jy bietjie kry, inspireer dit jou tot hoër hoogtes wat vir jou nog meer eer bring.

En voor ons dit kan keer, steel ons God se eer… of ons so bedoel het of nie.

Ek dink as ons nie aktief besig is om NIE God se eer te steel nie, is ons in die moeilikheid. As ons Hom nie doelbewus eer, sodat die om ons Hom kan ontmoet nie; Hom raak kan leef deur ons nie…

As ons Hom nie aktief soek sodat ons weet met wie se eer ons hier mors nie…

Sal ons dalk die skade wat ons doen onderskat of selfs miskyk.

Ek dink ek kan met veiligheid sê hoe meer mens Hom leer ken, hoe meer jaloers sal jy wees oor Sy eer en hoe meer sal jy besef hoe heilig daai ding is.

Joe Niemand het die week vir my gesê; wat ons nou moet doen, is om elkeen elke geleentheid te gebruik om God te eer. Ons lewe in ‘n wêreld wat Hom desperaat moet raaksien, maar nie doen nie. As ons te besig is om mense te eer, of onsself te eer, en nie aktief God verheerlik nie, gaan mense verlore terwyl ons die punt so mis!

Friday
Feb032012

Bonatuurlik nuut-wees

Ai, jy weet mos teen die tyd my brein floreer op wroeg en wonder… so toe ons op pad terug van die vakansie af ure en ure deur die Karoo ry met sy eindelose reguit paaie en die groot niks weerskante voor en agter, spot ons later oor hoe niks niks is, net om te probeer wakkerbly deur die niks heen, jy sien.

My koppie begin weer God se kant toe staan en ek wonder so by myself hoe niks die niks nou eintlik is? Ek bedoel... Ons ken mos God nou al so bietjie. In die landskap hier om my sal Hy mos nou nogal tuis voel. Sy nederigheid in die kleurloosheid, Sy lankmoedigheid in die ongenaakbaarheid wat uithou so moeilik maak, die verdorde plante wat in die geheim saad skiet. Weggesteekte lewe... dis verseker Hy die. Die oopte bo, die veraf grootse berge. Imposant en nederig, Dis my God!

Maar daai versteekgeit laat my verder broei. Wat is onder die eendersheid en onindrukwekkendheid. Ek kan my nou SO indink dat ons mense nie graag hier kom ontdek nie. Die plek skree los my uit! Niemand wil hier bly nie. Maar wat is onder die hardgebakte oppervlakte? Wat? Kosbare skatte? Nuwe minerale wat ons nie weet bestaan nie? Wie sê die periodieke tabel is volledig? Wie sê ons het enigsins naastenby alles ontdek wat daar is om te weet selfs op atomiese vlak?

Toe sê my man hulle het op radio gepraat van die moontlikheid van die bestaan van 'n nutrino (of hoe ookal mens dit spel) met die implikasie dat alles wat ons gedink het ons weet op atomiese vlak herdefineer mag word... Sulke goed fasineer my want al wat ek weet, is dat God soos 'n diamant is wat elke oomblik 'n nuwe faset aan die om Sy troon ten toon stel. En al wat hulle kan sê is heilig heilig heilig en hulle krone net weer ‘n keer neersmyt! Hy doen dit vir ewig al en gaan dit vir die res van ewigheid aanhou doen! En ons dink ons weet wat aangaan? Ha ha

Ek bid so baie dat God Homself aan my sal openbaar. Ek het so nodig dat Hy my WOW. As Hy nie doen nie, is ek net nie, en dan raak dit al hoe moeiliker om dit werklik te bedoel as ek Hom aanbid. Ek het ook al duidelik agtergekom, hoe minder tyd ek by God spandeer (in Sy woord en by Hom in gebed), hoe minder beïndruk en beinvloed Hy my minute. Maar as ek daar is, dan tref iets my soos die gedagte dat ons geheimsinnige God kreatief genoeg is om 'n heelal te skep en elke grassie anders te maak net omdat Hy kan en wil. As Hy elke dag nuwe maniere uitdink om ons genadig te wees, nuwe liedjies oor ons sing en nuwe goed bly sê en doen, alles terwyl Hy in wese dieselfde bly, dan het ons ‘n God wat my WOW. En natuurlik sal Hy nuut bly. Het jy al agtergekom hoe enige herhaling die snykant van die WOW afhaal? Die tweede keer wat jy dieselfde ongelooflike ding hoor is dit klaar die kleinste bietjie minder ongelooflik, en daarna val dit vinnig…

Vat die laaste openbaring wat jy gehad het. Sny dit jou nogsteeds so diep of is ons dalk geskep om gereeld iets nuuts saam met ons WOW God te beleef.

Ek weet ons voel onveilig met die onvoorspelbare, maar die punt is juis ‘n God in beheer in ons lewens nie waar nie? Die implikasie is heel waarskynlik nuwe goed wanneer nodig; goed wat ons nie ken nie, planne wat ons nie verstaan nie en nie weet hoe om te hanteer nie, agtervoet, buite beheer, onafhanklik van jou sterkpunte dinge. Want kom ons wees eerlik, as ons dit kan hanteer, is dit nie groter as ons nie ne? Ons kan groef dinge hanteer; die goed wat te min verskil maak; die goed wat jy en die hele wêreld om jou al hoeveel keer gesien het.

Ek sê jou nou, ons sal die aandag van die wêreld kry die dag as ons iets doen of sê wat hulle nie verwag nie. Die dag wat ons ophou om met die wêreld te probeer kompeteer op hulle terme. Die dag wat ons ons God vra wat Hy sou voorstel. Die dag wat ons ophou verplig voel om die klaar-Christene dadelik besig en gelukkig te hou. Die dag wat ons ernstig raak om op Hom te wag… en sodra ons hoor, onverskrokke te doen wat Hy sê.

…en dit sal eers gebeur wanneer Hy ons weer WOW.

Janine