Wat WAG vermag...
Omdat ek op een van daai moedelose wagplekke is, waar g’n niks sin maak nie en hoop oor die bult buite sig is… was dit so lekker vir my toe ons oor die lekkerste broodjie moontlik ‘n geselsie deurwerk wat my toe nogal meer optel as wat ek op daardie stadium verwag het.
Elza vra so tussendeur of ons weet hoe die val van die Berlynse muur gebeur het? Nie een van ons het nie, toe vertel sy ons eers oor die oprig daarvan. Hoe die kindertjies daarop geklouter en gespeel het soos hulle dit gebou het, want niemand het die doel daarvan besef nie. Die dag wat die doodsmuur in werking getree het, het mans werk toe gegaan soos gewoonlik, maar toe hulle huis toe wou gaan na hulle families toe, kon hulle nie. So is families geskei vir amper 40 jaar lank deur daardie vervloekte muur. Geen opstand is geduld nie. Geen samekomste nie. Enige teken van so iets en wie ookal deel was, is afgemaai en dit was dit. Vrees het meedoënloos regeer tydens kommunisme. Maar by die een hek was die Christene aan die bid. Die hek is gereeld saggies gesalf en bevas en bebid. Jaar in en jaar uit was daardie gebede voor God se troon in die bak opgevang tot hy oorgeloop het, die volheid van tyd aangebreek het en God die woord gespreek het. VRYHEID! Die betrokke dag het die mense skielik die strate in begin stap. Hulle het by die muur saamgedrom. Waar hulle in die verlede oombliklik hulle lewens sou verloor, is nie een skoot op hulle gevuur nie. Hulle het meer en meer geword en begin aandring dat die hek oopgemaak word. Dis nou die bebidde hek. Hulle het al hoe harder aangedring tot die paniekbevange wagte die generaal self bel met die bekommerde woorde; die mense wil hé ons moet die hek oopmaak. Dis toe dat die generaal antwoord: “wel maak dan die hek oop.” Met die oopmaak van daardie hek en die oorstap van daardie mense, het kommunisme geval. ‘n Mens moet wonder wat van daardie generaal geword het. Wat op aarde daardie dag in sy kop moes aangegaan het, met die tipe vrees regéme wat hy al die jare self geadministreer het, wat tog ook moes geskree het daar binne…. Maar God het gepraat en wanneer Hy dit doen is daar niks en niemand wat Hom kan keer nie.
Dan wonder jy skielik… wel hoekom nie vroeër nie? Hoekom soveel gebede oor soveel jare???
Volgende vertel sy toe van ‘n fotograaf wat al baie toekennings ontvang het vir die nuus fotografie wat hy doen. Hy is ‘n ernstige volger van Jesus en God sê toe eendag vir hom om Rwanda toe te gaan en die oorlog daar af te neem; die dood, die vroue wat verkrag is, die kinders wat sonder ledemate rondloop, al die verskrikkings wat daar gebeur. Hy doen dit toe en verloor twee keer byna sy lewe in die proses. Met sy terugkeer wou hy dit sumier koerante toe stuur, maar God keer hom en sê uitdruklik dat hy dit na die gebedsnetwerke in die land toe moes stuur. Hy het dit gedoen en jare het verby gegaan. Die oorlog het aangegaan met alles wat daarmee gepaardgaan…. en hy het letterlik daarvan vergeet. Tot een dag wat hy in ‘n gepakte kroeg sit en opkyk na die televisie, waar die nuus toe juis op daardie tydstip berig doen oor die einste oorlog in Rwanda. Skielik neem ‘n heilige woede van hom besit en hy staan net daar op en skree TV toe, Oorlog in Rwanda, stop NOU! Daardie selfde aand is die verdrag geteken wat die einde van die oorlog beteken het.
So hier’s my vraag…. Wat beteken volheid van tyd? Wat moet alles gebeur, wat so belangrik is, dat geen lewensverlies, hartseer of pyn die tyd vorentoe kan dwing nie? Wat sien ons liefdevolle God wat ons nie sien nie? Want Hy sien en Hy weet.
Wat my bring by my huidige situasie wat ek nie verstaan nie en ek vas glo ek nie kan verdra nie…. Nie gaan maak nie… hopeloos is. Maar God stem nie saam nie. Hy haal my nie hieruit nie. Hy vra net dat ek doen wat Hy voor my sit. En solank daar asem in my is, is dit wat ek sal moet doen. Ek kan nie vorentoe nie en ook nie agtertoe nie, want ek weet nie wanneer Hy wat in my en die rondom my moet vermag vir Sy koninkryk en tot Sy eer nie… Al wat ek weet is wie Hy is… dis al. En al is dit nie nou genoeg nie, is dit al wat ek nou het en Hy bly soeverein.
Ek sien met alles in my uit na eendag daar voor Sy troon as ek kan saamweet, en nie meer KAN wonder of twyfel nie…


T2G Web Team
