Home :: About :: Storie agter die storie

Donations

Make your transfer via Internet Banking or Cash deposit into the following account:

Standard Bank
Castle Walk Branch
Branch code 014645
Account 241308984

Member Login

Join the Community! You can participate in discussions, create your own groups, interact with friend and many other things!



Newsletter subscription

Our partners

Die storie agter die storie PDF Print E-mail
’N STUKKIE IN DIE LEGKAART

elzaElza Meyer wil graag elkeen wat hierdie gedeelte lees,  vra om te verstaan dat sy hiermee probeer om iets te verhaal van ’n persoonlike pad met God.  Hierdie hoofstuk is subjektief geskryf,  vanuit haar eie beleweniswêreld.  Haar gebed is dat dit nie sal aanstoot gee nie,  maar sal inspireer en dat elkeen wat dit lees aan God alleen eer sal gee.

Sy probeer ook nie met hierdie hoofstuk te kenne gee dat sy ’n buitengewone bydrae gelewer het tot God se koninkryk of ’n groter rol gespeel het as enige ander volgeling van Jesus nie.  Dis maar net die storie van een van God se kinders wat verwonderd is en bly oor sy goedheid en genade!

Sy bid dat haar lewe uiteindelik ook saam met die lewens van God se ander kinders die legkaart vir ons tyd sal voltooi en dat God ons met herlewing in SA sal seën!

Sy vertel:


1998 WAS DIE VERVULLING VAN ’N LEWENSLANGE DROOM

Sedert ek in 1972 die Here as my Saligmaker en Verlosser aangeneem het,  wou ek graag ’n predikant word.  Toe ek in 1976 Universiteit toe is,  kon ek egter nie hierdie droom uitleef nie – vroue is nie toegelaat om gelegitimeer te word nie.  My pa het voorgestel dat ek Onderwys studeer.  Ek het dit gedoen en is in 1979  met Thys getroud.  Ons het aan die Oosrand gewoon en daar het ek vir 10 jaar lank aan en af skool gehou tussen die grootmaak van ons kinders deur.

In 1991,  ’n jaar voor ons jongste dogter skool toe is,  het Thys,  my man,   eendag by die huis gekom en vir my gesê:  “Vrou,  geen mens behoort met ’n droom in sy/haar hart dood te gaan nie.  Ek wil hê jy moet gaan Teologie studeer,  wanneer Susan volgende jaar skool toe gaan.” 

Dit het my 5 jaar geneem om my Teologiese studies te voltooi.  5 Jaar van buitengewone genade.  Ek het elke oggend vroeg opgestaan,  alles vir die kinders reggesit vir skool,  ontbyt gemaak en van Boksburg af Pretoria toe gery.  Elke middag 12:30 het ek klas verlaat om 13:30 terug te wees in Boksburg om die kinders te kry as die skool uitkom.  Langs die rugby- en netbalveld het ek Grieks en Hebreeus geleer.  Elke dag het ek daardie dag se werk afgehandel en dit het my studies baie vergemaklik.  Na my studies voltooi is,  het ek ’n jaar lank gewag vir ’n beroep.  Aan die einde van 1997 het die NG Gemeente Kempton Park-Wes my beroep.  Dit was die vervulling van ’n lewenslange droom!

In Kempton-Wes het ek ’n tyd van oorvloed beleef:  ons het God se teenwoordigheid voelbaar beleef en wonders was deel van ons alledaagse kerkwees.  Dit was vyf en half jaar van gebed,  liefde en lewe soos in die tyd van die Bybel!


2000

In 2000 het die gemeente ’n rol in stadsverband begin speel.  Ek het die voorreg gehad om Kempbisa te lei,  ’n organsisasie wat uit meer as 100 gemeentes bestaan het en wat gesamentlik ’n Christelike invloed op die stad uitgeoefen het.  Voor die stadionbyeenkomste oraloor in die land begin het,  het Kempton Park en Tembisa so byeen gekom en het die destydse burgermeester die stad aan God toegewy.

Ons het ‘n 24 uur Huis van Gebed begin en wou werklik die Here se teenwoordigheid in en oor ons stad eer.  Ons het Hom dag en nag geloof en aanbid.  In daardie tyd het ons Hom telkemale duidelik met ons hoor praat. 

Saam met baie ander het ek die Here gesmeek om ons land van ondergang te red.  Die tekens van geestelike en fisiese agteruitgang was oral sigbaar.  Baie gemeentes oor die land heen het gesluit,  meer en meer blanke Afrikaners,  veral jongmense,  het die land verlaat en misdaad en geweld het begin toeneem.  Aborsie is gewettig en kinders van 13 jaar het nie eens nodig om hul ouers se toestemming vir ’n aborsie te hê nie!


’N BESOEKER BRING GOEIE NUUS

Een Sondagoggend terwyl ons weereens voor God gelê het,  was daar ’n klop aan die deur van die vertrek waar ons saam was.  Dit was vreemd,  want niemand het ooit geklop nie.  Mense het ingekom en gegaan terwyl ons bid,  sonder om ooit te klop. 

Ons het die deur oopgemaak.  ’n Man het in die deur gestaan.  Hy was baie netjies aangetrek,  met ’n sambreel in die hand.  Hy het gesê dat God hom in die nag ’n boodskap vir ons gegee het.  God het nie vir hom gesê wat die gemeente se naam is of waar ons geleë is nie.  Hy het net vir hom die omgewing gewys en vir hom gesê dat Hy hom na ons toe sou lei.

Langs die kerk was daar ’n park.  Die man het die park en die kerk gesien toe God vir hom die opdrag gegee het.  Sy boodskap aan ons was kort.  Hy het gesê:  “God hoor julle gebede.  En Hy sê:  ‘Ek kniel met my een been in die parkie hier by julle.”  Ons was oorstelp van aandoening dat God soveel moeite doen om ons te verseker dat ons smekinge nie by Hom verbygaan nie!


2002

Dit was in 2002 dat die Here met my gepraat het oor “SA draai terug na God toe.”   Ek het die Sondagaand na kerk nogeens gepleit vir ons land.  Dit was laataand.  Ek en my man was al in die bed,  toe ek God met my hoor praat.   Hy  het vir my gesê:  “Sê vir SA:  Draai terug na God toe!”  Ek het die Here geantwoord dat niemand my sou hoor nie,  aangesien my stem te sag is.  Hy het weer met my gepraat – hierdie keer dringend:  “Sê vir SA:  Draai terug na God toe!”  Ek het toe die land opdrag gegee om na God toe  terug te draai.  In my geestesoog kon ek die boodskap in klankgolwe oor die land sien spoel.  Ek het gesien hoe die klankgolwe teen die Drakenberg vasslaan en oor die land uitkring.  Ek het gesien hoe die stropers op die ryp koringlande in Malmesburydistrik ophou stroop en hoe die werkers afklim en die boodskap hoor!  Oral het mense uit winkels en huise in die Karoodorpies op straat uitgeloop en opgekyk.  Ek kon sien dat hulle die boodskap hoor!  Na hierdie gesig het ek ’n ander stem hoor sê:  “2008.”  Op daardie stadium het ek diep binne in my gees geweet dat hierdie datum belangrik is. 


’N BOODSKAP VIR ALLE BEVOLKINGSGROEPE

Ek het ervaar dat hierdie boodskap vir al 14 bevolkingsgroepe van ons land bedoel is.  In elke bevolkingsgroep is daar leiers wat hulle mense se belange op die hart dra.  Hulle tree in vir hulle volk en is dienaars van God en mense.  As hierdie mense opstaan en hulle mense oproep om na die Here toe te draai,  sal hulle luister en God sal ons gebede verhoor en aan ons ’n toekoms vol van sy oorvloed gee!  As ons egter nie na God toe draai nie teken ons,  ons land se doodsvonnis.

Ek het beleef dat God nooit bedoel het dat volke en nasies deur politieke leiers regeer moet word nie.  Volksleiers was bedoel om mense te wees wat omgee vir hul mense en nie gedryf word deur ander belange nie.  ’n Volksraad behoort te bestaan uit die leiers van volke en ’n staatsleier behoort vir al die volke van sy land in te tree by God.  Hy/sy moet God se plan en strategie vir die land te wete kom en in wysheid sonder vooroordeel regeer. 


’N TYD VAN WAG EN BID

Vir ’n tyd het ek met niemand oor hierdie gebeure gepraat nie.  Dit was te groot vir my.  Na ’n tyd het ek dit met ’n paar intersessors gedeel,  wat vir die land bid.  Ons het egter nie geweet hoe God hierdie opdrag sou moontlik maak nie. 

Met tye het dit vir my gevoel of daar niks gebeur nie.  Ander kere was ek weer vol geloof dat God binnekort herlewing sou gee. 


2003-2005

In 2003 is ek na Moreleta Park beroep.  In 2004 het die Here begin om in die vroue van die gemeente nuwe opgewondenheid oor Hom te wek.  By elke byeenkoms van die Vroue Bediening het God op ’n besonderse wyse vroue aangeraak.  Vrouekampe was ’n wonderlike belewenis.

In 2005 het ons ’n Vrouekamp gehad waar ons die verskillende fasette van die tabernakel bestudeer het en dit dan in verband gebring het met ons verhouding met Christus.  Telkens het ons dan ook gedoen wat ons geleer het,  bv. as ons van reiniging geleer het,  het ons elke sonde wat by ons opgekom het,  voor God bely en ons lewens gereinig.  Teen die Saterdagaand het ons die Allerheiligste behandel.  Daardie aand het ons ’n baie spesiale ontmoeting met God gehad.  8 van die vroue wat God daardie aand vir ’n baba vertrou het,  het al teen die einde van 2006 hul babas gehad.  Toe ons daardie aand uit die saal stap,  was daar ’n wolk reg rondom die saal.  Die wolk het op die grond gehang en was omtrent 3m hoog.  Die lug was egter oopgetrek en ons kon die sterre duidelik sien.  Ons het almal ervaar dat dit ’n fisiese manifestasie van God se teenwoordigheid was.


HADASSA EN ESTER

Die Maandagoggend het ek nog in die bed gelê toe ek duidelik ervaar dat die Here aan my die opdrag gee om twee vroue konferensies te hou.  Ek het dit met die Vroue Bediening getoets en hulle was oortuig dat dit God se wil is.  Ons het dadelik begin om die Here se wil oor elke stukkie detail van die eerste konferensie te soek. 

Die koördineerder van die konferensie het ervaar dat die konferensie as die Hadassa Konferensie  bekend moet staan.  In dieselfde tyd het CUM my gevra om drie boeke van die Nuwe Lewende Vertaling te lees en kommentaar te lewer oor die leesbaarheid en vertaling.  Ester was een van die Bybelboeke.  Terwyl ek Ester deurgelees het,  het ek vir die eerste maal besef dat Hadassa/Ester deur ’n intensiewe voorbereidingstyd gegaan het voordat sy die koning ontmoet het.  Die Hadassa Konferensie sou ook fokus op geestelike voorbereiding om God met alles in ons lewens te eer en lief te hê.  As uitkoms van Hadassa moes elke vrou haar man erken as die geestelike hoof van hul huis en hom in sy posisie bevestig voor hul kinders.

In die tyd van voorbereiding het ons ervaar dat God ons lei om die Hadassa Konferensie in die derde week van Junie 2006 te hou en die Ester Konferensie 9 maande later op die 9e en 10e Maart.    Terwyl ek die boek van Ester deurgewerk het,  sien ek toe dat die vertaler twee datums in die vertaling aangebring het.  In die derde week van Junie het koning Ahasveros op versoek van koningin Ester perderuiters oor die hele ryk van die Mede en Perse uitgestuur om vir die Jode die reg te gee om hulself te beskerm op die datum wat Haman met die koning onderhandel het vir hulle uitwissing.  Die koning het nie die reg gehad om sy vorige bevel ongeldig te verklaar nie,  maar hy kon ’n proklamasie uitvaardig om aan die Jode die reg te gee om hulself te verdedig.

Dit het regtig vir my gevoel asof die Here sê dat die bose se plan oor ons land vasstaan.  Omdat ons land en sy mense weggedraai het van God af,  het ons gekry wat ons gekies het:  ’n lewe sonder God en oordeel oor ons sonde.   Maar God is vol van genade en liefde.  Wanneer sy kinders na Hom roep,  sal Hy hulle sonde vergewe en hulle land genees.  Daarom vaardig Hy ’n proklamasie van redding uit.  Ons mag die plan van vernietiging teenstaan en Hy sal aan ons die oorwinning gee.  Net soos in die tyd van Ester het die ongeveer 3000 vroue wat Hadassa bygewoon het,  teruggegaan na hul onderskeie dorpe en stede met die boodskap dat God aan ons die oorwinning oor die plan van die bose sal gee.  God sal ons land van ondergang red.  Al wat Hy vra is dat ons met alles binne-in ons na Hom toe terugdraai.

Die datum waarop die Jode uitgewis sou word,  was die 7e Maart.  Toe 7 000 vroue vanoor die hele land op 9 en 10 Maart 2007 in Pretoria bymekaar kom,  het ons die inhoud van hierdie boek ons eie gemaak en opgestaan vir God se plan van oorwinning:  ’n lewe in God se teenwoordigheid!  7 000 vroue het daardie  naweek die Here tasbaar beleef en is onherroeplik verander om hul mans,  gesinne en omgewing met God se liefde te dien en met alles binne-in hulle na God toe te draai. 


SILWER REËN

Een oggend voor die Esterkonferensie het ek wakker geword,  terwyl dit silwer reën.  Wanneer ek my oë oopmaak, het ek silwer reën gesien,  wanneer ek my oë toemaak het ek silwer reën gesien.  My man het gesë:  “Maak toe jou oë vrou en maak hulle oop,  dat jy kan regkom.”  Die silwer reën wou nie weggaan nie.

’n Paar uur later het Lindie Gouws my uit Israel gebel en gesê:  “Ek sien silwer reën oor die hele Afrika.  Die Here sê vir my:  “Out of a few will enter the African rain.  It is the silver rain of God’s redemption.”

Ek glo met my hele hart dat die redding wat God bring oor die hele Afrika sal realiseer.


UITREIKE

Ons het geweldig baie versoeke ontvang om die Hadassa- en Esterkonferensie na verskillende gemeentes toe te neem.  Ons het gelei gevoel om Hadassa via DVD na die onderskeie gemeentes te neem,  maar ons het ervaar dat die eise wat die Esterkonferensie stel van ons vereis om dit self aan te bied.  Tydens een van die sessies maak mense proklamasies oor verskillende sektore en fasette van funksionering,  wat geweldige geestelike impak het.  Ons het gevoel dat ons dit met groot omsigtigheid,  dog geestelike outoriteit moet hanteer. 

So het dit gekom dat ons in verskillende provinsies ’n streeksuitreik gehou het,  waar elke provinsie op sy eie geestelike verantwoordelikheid kon neem vir hulself,  hul gesinne en die toekoms van ons land. 


EMMI SE KLIP

Einde 2007 tydens ‘n uitreik ná die Oos-Kaap was Emmi een van die spanlede wat vooraf die streek besoek het om opleiding te doen.  Terwyl hulle op Jeffreysbaai op die strand gestap het,  het sy gevoel sy moet ’n klippie en ’n skulpie optel.  Toe ons ’n paar weke later die konferensie gaan aanbied,  kom Emmi die oggend vroeg by my aan met die klippie en die skulpie.  Sy vertel toe vir my hoe sy in haar gesprek met die Here ervaar het dat ek die klippie in die see moet gooi.  Wanneer ek die klippie in die see gooi,  moet ek in die geloof verklaar dat die berg van ongeloof in ons land sal plek maak vir geloof.  Sy het ook ervaar dat ’n vloedgolf van reiniging oor ons land sal spoel.

Die spannetjie mense wat ná die Oos-Kaap konferensie saam met my was,  het saam gebid.  Ons het so diep as wat ons kon in die see-ingegaan en die klippie ingegooi.  Toe ons later uitstap op die strand het ek gelei gevoel om te verklaar:  “Here,  U verwyder ons hart van klip en U  gee ons ’n hart van vlees.  U skryf U wet op ons harte!  Dit doen U vir al 14 bevolkingsgroepe in ons land.  Amen.”

Op daardie stadium het die Here my daaraan herinner dat ons met elkeen van die Ester uitreike ’n bepaalde area van ons land en sy mense aan Hom toegewy het:  In Mpumalange en die Noordelike provinsie was dit die grond.  Daar was al soveel bloedvergieting en oorlog as gevolg van die sug na grondbesit!  Vreemd genoeg was daar daardie naweek brande oor die hele land.  Dit het gebrand van Piet Rietief af tot by Graskop, in Natal en die Wes-Kaap.  Tydens die Wes-Kaapkonferensie het ons God se mense opnuut aan Hom toegewy – die kerk en elke ander godsdiens en anti-godsdiens,  sal erken dat Jesus Christus die Here is!  In die Vrystaat het ons gepleit dat al 14 bevolkingsgroepe van ons land sal leer om God bo nasionalisme lief te hê  In die Oos-Kaap het ons verklaar dat die Afrika-godsdienste en animisme  sal plek maak vir ’n lewende verhouding met God en ons het in die gees ’n deur oopgemaak na Afrika.

Tydens die Oos-Kaap konferensie was daar ’n aanval van die bose op my liggaam.  Ons kon nie die effek daarvan gebreek kry nie,  totdat ek laatnag my seun,  Pieter,  gebel het en hom gevra het om vir my te bid.  Hy het 10 miljoen siele,  gered en gedoop,  geëis in ruil vir die aanslag op my lewe.  Dit het onmiddellik geëindig.  Moreletapark Gemeente is deur die Here gelei om ’n nuwe doelwit vir die gemeente te formuleer nl. 10 miljoen siele binne 10 jaar.  Die oorhoofse doelwit is om 10 miljoen siele met die evangelie te bereik en hulle dissipels van Jesus te maak.

Ons het egter nooit die water van ons land opnuut aan die Here toegewy nie.  Terwyl ek so uitstap op die strand het ek gelei gevoel om te verklaar:  “Here,  ons wy ook die water aan U toe.  Elke poel en spruit,  elke rivier en dam,  elke ondergrondse-   en bogrondse waterbron en die see sal aan U toegewy wees.” 

Die volgende oggend is ek huis toe.  En toe het dit begin reën en die see het opgestoot oor die strandgebied aan die Oos-Kaap.  Die inwoners van Buffelsbaai,  waar ons die klip in die see gegooi het,  was vir dae lank van die buitewêreld afgesny.  Toe die water terugtrek en die strand weer oop was,  het ons gasvrou oral op die strand hartvormige klippe opgetel.  Sy het ‘n paar vir my aangestuur.  ’n Vriendin van my dogter vertel dat hulle die vreemdste klippe op Plettenbergbaai se strand gesien het:  klippe in die vorm van ’n hart.  By die Daniëlkonferensie het ‘n man na my toe gekom en gesê:  “Ek moet vir jou kom vertel dat ek ‘n hartvormige klip op Bloubergstrand opgetel het.”   Toe ons die klippe sien,  het ons besef dat God ’n teken gegee het,  dat hy die hart van klip uit ons land se mense sal verwyder.  Ons was oorstelp.


’N VERBOND MET GOD

Vroeg in 2008 het die Vroue Bediening se bestuur by die Here gesit om Sy aangesig te soek vir die jaar.  Terwyl ons by die Here was,  het Emmi gesê sy ervaar dat die Here ’n verbond met ons wil sluit.  Hy wil hê dat ons moet verklaar dat ons Hom bo alles sal liefhê.  Ek het onmiddellik geweet dat hierdie verbond en die gebeure rondom die klippe verband hou:  God sal die hart van klip uit die mense se harte haal,  maar Hy vra dat ons Hom bo alles sal liefhê!  My hart het vinniger begin klop.  Nie van opgewondenheid nie,  maar van vrees.  ’n Verbond is ’n ernstige saak!  ‘n Verbond het veral een baie gewigtige kenmerk:  dis ’n onverbreekbare ooreenkoms.  Wie ’n verbond verbreek,  gee die ander persoon die reg om sy lewe te neem. Jy sien,  ‘n verbond werk as volg:  Wanneer twee mense in antieke tye ’n bindende ooreenkoms wou aangaan,  het hulle ’n verbond gesluit.  Dan het hulle ’n dier/e geslag as teken dat dié een wat die verbond verbreek ook doodgemaak sou word.  ’n Verbond is tot die dood toe.

Toe God in Gen. 15 met Abraham ’n verbond gesluit het,  het Hy maar liewer vir Abraham aan die slaap gemaak en Alleen tussen die karkasse van die oopgesnyde diere deurgegaan as bewys dat Hy by die verbond sou hou.    God was Abraham genadig.  Abraham sou dit nie regkry om sy lewe lank aan God getrou te bly nie.  God sou egter altyd aan hom getrou bly.  Daarom het God Alleen tussen die dooie diere deurgegaan – vir altyd sou Hy Abraham se God wees.

Op daardie stadium het ek begryp dat hierdie ’n ernstige saak is.  As ek belowe om God bo alles lief te hê,  beteken dit dat ek bereid moet wees om alles wat in die pad daarvan staan,  af te lê en prys te gee.  Ek weet dat ek voorheen seker al ’n honderd keer gesê het dat ek God bo alles liefhet,  maar hierdie keer sou Hy my op my woord neem.  Ek sou hierdie keer nie wegkom met leë woorde nie – hierdie is ’n verbond!

Vir party van die vroue in ons span,  was dit nie so ’n moeilike besluit soos vir my nie.  Hulle het sommer net geweet hulle wil dit doen.  Ek het geworstel:  Here,  sal ek hierdie verbond kan hou?  Here,  hoe gaan ek dit regkry om U bo alles lief te hê?  Here,  nou is dit maklik,  maar wanneer daar swaar tye en moeilike keuses kom,  sal ek onthou wat ek vandag belowe het?

Ek het ‘n besluit geneem:  ek sou nie my emosies en vrese toelaat om my gedrag te bepaal nie.  Ek sou hierdie verbond met God aangaan,  ongeag die gevolge.  En ek het.  Vir die volgende paar dae het die worsteling in my binneste voortgeduur.  Tot die Here die Sondagoggend,  vroeg,  voor ligdag,  my vrese kom haal het en vir my verduidelik het:  ’n verbond het nie te make met hoe gehoorsaam jy aan My is nie.  ’n Verbond hou nie verband met hoeveel goed jy reg doen en hoeveel foute jy maak nie.  ’n Verbond is ’n verhouding:  Ek en jy.  Ons twee loop nou saam die pad.  Ek gaan jou leer om My meer lief te hê!

Hebreërs 10:16.  “Dit is nou die verbond wat Ek hierna met die volk Israel, gaan sluit,  verklaar die Here.  Ek sal my opdragte inskryf in hulle verstand dat hulle dit kan verstaan.  En Ek sal dit in hulle harte graveer,  sodat hulle dit kan gehoorsaam.”


DANIËL MANNE KONFERENSIE IN 2008

En nou is dit 2008!  Die jaar waarop ek al vir 6 jaar wag.  Op 14-16 Maart het ongeveer 3 500 mans byeengekom vir ’n konferensie wat ons gereël het as uitvloeisel van die Esterkonferensies.  Manne vanoor die hele land het gekom  om hul geestelike verantwoordelikheid op te neem en medeskrywers te word aan God se plan vir ons toekoms.

Aan die hand van Daniël se lewe het die sprekers manne opgerig om God se plan vir hul lewens raak te sien en terug te draai na God toe.  Bennie Mostert het na die konferensie vir my gesê:   “Die las is nou nie meer joune nie.  Daar is duisende wat dit opgetel het.”


JY HET OOK GEKIES!


Dankie aan elke man en vrou,  jongmens,  seun en dogter wat kies om die Here met hul hele lewe te dien en God se plan,  wil en  beginsels uit te leef.  Saam sal ons ’n land na God toe sien draai!  Ek voel die trillings van  herlewing.

Ek kan nie wag nie ...!



U HET DIT ALLES GEDOEN HERE!

AAN GOD AL DIE EER!

 
WedoWebsitesLOGO-160x40